Thursday, January 16, 2014

VAT VYF: MOTIVERING VIR 2014

 VAT VYF:  Vir 2014

Dit is ʼn redelik algemene gebruik onder veral jongmense, om wanneer iemand iets goeds gedoen het om te vir mekaar te sê “Vat vyf” en dan hul hande teen mekaar te klap terwyl dit opwaarts geswaai word.
Ek wil graag hiermee ʼn paar gedagte deel om so te help om 2014 ʼn “Vat vyf-jaar” te maak.

DUIM:  AKSIE

Om sukses te behaal vra dat ons dinge moet doen, dit vra AKSIE
AKSIE sonder ʼn DOEL is nutteloos.
AKSIE moet dus gerig wees op die bereiking van ʼn doel.
Jou doel kan vervat wees in jou ʼn droom wat jy nastreef.

ʼn DROOM sonder AKSIE bly ʼn DROOM.
Om te droom hou die lewe opwindend.
Die lewe sonder drome is soos ʼn reënwoud sonder bome”.

q  Moenie droom om soos iemand ander te wees nie, droom daaroor om die beste jy te wees. Wanneer jy eendag sterf sal die Skepper nie vir jou vra waarom jy nie ʼn middel teen VIGS ontwikkel het nie of waarom het jy nie die wêreld geskiedenis verander nie – Hy sal jou vra waarom het jy nie die beste jy geword nie. Hy het jou geskape met alles wat jy nodig het om die beste jy te wees – WORD DIE BESTE JY!                

Ø  DUIME op vir jaar van lekker doelgerigte werk!!

WYSVINGER:  RIGTING

q  Jy moet weet waarheen jy op pad is. Spandeer tyd daaraan om vir jou duidelikheid te kry van waarheen jy op pad is. Steven Covey skryf “Begin with the end in mind” Hoe duideliker jou bestemming geformuleer is hoe duideliker is jou rigting.
q  As jy weet wat jy wil doen sal weet waarvoor jy “ja” en “nee” moet sê in die lewe.
q  Dit sal ook bepaal hoe jy sal reageer op kritiek.
§  Soms sal jy net erkenning gee daarvoor
§  Ander kere sal jy reageer en aanpassings maak om beter te word.
q  Jou aksie (duim) behoort direk beïnvloed te word deur jou rigting.
q  Dit hang nie af van waar jy nou staan nie.  Dit hang af of jy beweeg in die rigting van jou droom.

 

MIDDELVINGER:  RESPEK

Respek begin by jouself.
Alle reëls van die samelewing kan vervat word met RESPEK
q  Vir Jouself
q  Vir Ander
q  Vir Tyd
q  Vir Goed
Die mate waarin ek respek betoon bepaal hoe ek met my gemeenskap verkeer.  Respek het ook ʼn invloed oor hoe ek my drome gaan bereik.
§  Gaan ek op ander trap, hulle misbruik om my doel te bereik of gaan ek so optree dat ander graag met my geassosieer wil word omdat jy hulle ook motiveer om hul eie drome na te streef.?

RINGVINGER:  SELFONTWIKKELING

Die ringvinger is ʼn swakker vinger maar baie noodsaaklik vir die goeie funksionering van die hand.

Ken jou swakpunte.
q  Dit bepaal waaraan jy kan werk.

Ken jou sterkpunte.
q  Dit help om jou drome te bereik.

Jy mag voel dat jy dalk ʼn geringe bydrae kan lewer - tog is dit wesentlik belangrik vir die sukses van die groep.

Wees deel van die droom - jy met jou totale pakkie van wie jy is kan julle droom opwindend maak.

Om voluit jy te wees vra dat jy bereid sal moet wees om die sweefstok waaraan jy nou vashou te los en die sweefstok geleenthede wat na jou uitgehou word te gryp en te swaai na nuwe hoogtepunt in jou lewe.

Dit mag wees dat as gevolg hiervan jy verander en dit kritiek van jou maats mag uitlok.

PINKIE:  BESKEIE BYDRAE

q  Klein dingetjies wat die lewe die moeite werd maak.
q  Gee aandag aan klein dingetjies soos om vir iemand dankie te sê. Let op daarna oor hoe jy mense behandel wat jou bedien in ʼn winkel – behandel hulle soos jy graag behandel sou wou word.
ʼn Beskeie bydrae kan met die volgende verhaal vergelyk word.
ʼn Man het 3 seuns gehad. Met sy sterwe word bepaal dat sy 17 perde soos volg verdeel word:
                Oudste seun kry:                             1/2  van die perde
                2de Oudste seun kry:                   1/3 van die perde
                3de Oudste seun kry:                   1/9 van die perde.

Dit kan nie.
Die halfte van 17 is 8 ½
ʼn Derde van 17 is  bykans 6 ½

ʼn Verbyganger sien die probleem en gee sy perd vir hulle, nou het hulle 18 perde
                Oudste:                               1/2         =   9
                2de Oudste:                      1/3         =   6
                3de Oudste:                      1/9         =   2
TOTAAL:                                                           = 17
Verbyganger vat sy perd en loop.
Hy het ʼn verskil gemaak.

SLOT:
As ek dan jou ter afsluiting die hand toe maak wil ek graag sê:
Pak die jaar aan met ʼn gebalde vuis. As jy terugkyk aan die einde van die jaar moet jy kan sê “ek het hierdie jaar ʼn kishou geslaan, omdat jy geweet het waarheen jy op pad is, die nodige aksies uitgevoer het om daar te kom, jy bewus is van jou swak- en sterkpunte, jy daaraan gewerk het en jouself ontwikkel het en omdat jy deur klein dingetjies te doen ʼn verskil gemaak het.
Mag hierdie jaar vir julle ʼn wonderlike jaar wees waarin julle sal groei tot volle wasdom.

Friday, October 19, 2012

BEKAMPING VAN TIENERSWANGERSKAPPE


REGERING WIL KONDOME AAN SKOLE VERSKAF OM TIENERSWANGERSKAPPE TE BEPERK
Ben Ferreira het in die afgelope tyd bewus geword van die verskillende standpunte ten opsigte van die verskaffing van kondome aan skole ten einde tienerswangerskappe in skole te bekamp.
Die beginsel dat beheerliggame van skole beleid hieroor kan bepaal, word verwelkom en daar word aanvaar dat skole op grond van hul waardesisteem die regte besluit sal neem. In die onderwys is dit in belang van die opvoeding van kinders om die regte besluit te neem en nie noodwendig die gewilde of makliker besluit nie.
Aan die anderkant is daar begrip vir die las wat die tienerswangerskappe op gesondheidsdienste en die nasionale begroting plaas ten opsigte van die uitbetaal van onderhoudstoelae vir die versorging van dié kinders.
Dit is egter kommerwekkend dat bykans 50 000 skoolmeisies jaarliks swanger word. Dit is verder skokkend oor hoe jonk sommige van die meisies is wat swanger word. Selfs so jonk as graad 3. In 2009 was 108 van die swanger meisies in graad 3.
Ben Ferreira, is van mening dat die verspreiding van kondome daarop gerig is om die simptoom te dokter en dat die ware oorsaak, naamlik. ʼn gebrekkige waardesisteem (wat saamhang met dissipline wat by baie skole totaal in duie gestort het) totaal onderspeel word. Die verskaffing van kondome is volgens Ferreira slegs ʼn poging om die aantal swangerskappe en HIV-VIGS- besmettings te verlaag wat vanuit ʼn gesondheidsoogpunt positief kan lyk – as die aksie wel positiewe resultate sou lewer.
Ferreira vra die vraag of daar verskillende waardes vir verskillende situasies geld en of ons nie dan in die proses leerders en ouers verwar met verskillende boodskappe nie. Om ʼn meisie swanger te maak is verkeerd, maar om veilige seks te hê, is reg, want jy het die regte voorsorgmaatreëls getref; dus om te steel is reg, maar as jy uitgevang word, is dit verkeerd, want jy het nie die regte voorsorgmaatreëls getref nie.
Limpopo en Oos-Kaap, met hul bewese rekord van swak dienslewering,. haal ook, wat bogenoemde onderwerp betref, die bopunt van die lys. Dis insiggewend dat 41,4% van alle skoolswangerskappe by dié twee provinsies voorkom. As KwaZulu-Natal bygetel word, verteenwoordig dié drie provinsies 70% van die aantal swangerskappe.
Die vraag kan dus met reg gevra word op grond waarvan leerders gedissiplineer behoort te word as hulle byvoorbeeld met minagting teenoor onderwysers optree, maar daar word  toegelaat dat hulle met minagting teenoor mekaar optree as dit by seks kom. Op grond waarvan kan daar dan byvoorbeeld opgetree word teen leerders wat dwelms gebruik as “veilige” seks goedgekeur word?
Om die aantal swangerskappe en die aantal HIV/VIGS- besmettings te probeer keer deur “veilige” seks goed te keur is nie die gewensde manier om die saak te hanteer nie. Die gemeenskap, veral die kerkgemeenskap, sal sterker hieroor standpunt moet inneem. In besonder sal die rol wat gesinseenhede kan en moet speel ten opsigte van die vestiging van gesonde waardes beklemtoon moet word. Daar sal daadwerklik pogings aangewend moet word om o.a. deur middel van ouerbegeleiding die betekenis en implikasies van die waarde  van respek en selfrespek vir tieners oor te dra. Dit gaan egter nie hier oor die een of die ander nie die een kan nie die ander kan vervang of uitsluit nie. Die vrylike gebruik van kondome sonder die nodige opvoeding en oordrag van waardes sou totaal onverantwoordelik wees, daarom is daar groot klem op die gemeenskap om medeverantwoordelikheid te aan vaar vir verantwoordelike opvoeding en onderwys.