Friday, October 19, 2012

BEKAMPING VAN TIENERSWANGERSKAPPE


REGERING WIL KONDOME AAN SKOLE VERSKAF OM TIENERSWANGERSKAPPE TE BEPERK
Ben Ferreira het in die afgelope tyd bewus geword van die verskillende standpunte ten opsigte van die verskaffing van kondome aan skole ten einde tienerswangerskappe in skole te bekamp.
Die beginsel dat beheerliggame van skole beleid hieroor kan bepaal, word verwelkom en daar word aanvaar dat skole op grond van hul waardesisteem die regte besluit sal neem. In die onderwys is dit in belang van die opvoeding van kinders om die regte besluit te neem en nie noodwendig die gewilde of makliker besluit nie.
Aan die anderkant is daar begrip vir die las wat die tienerswangerskappe op gesondheidsdienste en die nasionale begroting plaas ten opsigte van die uitbetaal van onderhoudstoelae vir die versorging van dié kinders.
Dit is egter kommerwekkend dat bykans 50 000 skoolmeisies jaarliks swanger word. Dit is verder skokkend oor hoe jonk sommige van die meisies is wat swanger word. Selfs so jonk as graad 3. In 2009 was 108 van die swanger meisies in graad 3.
Ben Ferreira, is van mening dat die verspreiding van kondome daarop gerig is om die simptoom te dokter en dat die ware oorsaak, naamlik. ʼn gebrekkige waardesisteem (wat saamhang met dissipline wat by baie skole totaal in duie gestort het) totaal onderspeel word. Die verskaffing van kondome is volgens Ferreira slegs ʼn poging om die aantal swangerskappe en HIV-VIGS- besmettings te verlaag wat vanuit ʼn gesondheidsoogpunt positief kan lyk – as die aksie wel positiewe resultate sou lewer.
Ferreira vra die vraag of daar verskillende waardes vir verskillende situasies geld en of ons nie dan in die proses leerders en ouers verwar met verskillende boodskappe nie. Om ʼn meisie swanger te maak is verkeerd, maar om veilige seks te hê, is reg, want jy het die regte voorsorgmaatreëls getref; dus om te steel is reg, maar as jy uitgevang word, is dit verkeerd, want jy het nie die regte voorsorgmaatreëls getref nie.
Limpopo en Oos-Kaap, met hul bewese rekord van swak dienslewering,. haal ook, wat bogenoemde onderwerp betref, die bopunt van die lys. Dis insiggewend dat 41,4% van alle skoolswangerskappe by dié twee provinsies voorkom. As KwaZulu-Natal bygetel word, verteenwoordig dié drie provinsies 70% van die aantal swangerskappe.
Die vraag kan dus met reg gevra word op grond waarvan leerders gedissiplineer behoort te word as hulle byvoorbeeld met minagting teenoor onderwysers optree, maar daar word  toegelaat dat hulle met minagting teenoor mekaar optree as dit by seks kom. Op grond waarvan kan daar dan byvoorbeeld opgetree word teen leerders wat dwelms gebruik as “veilige” seks goedgekeur word?
Om die aantal swangerskappe en die aantal HIV/VIGS- besmettings te probeer keer deur “veilige” seks goed te keur is nie die gewensde manier om die saak te hanteer nie. Die gemeenskap, veral die kerkgemeenskap, sal sterker hieroor standpunt moet inneem. In besonder sal die rol wat gesinseenhede kan en moet speel ten opsigte van die vestiging van gesonde waardes beklemtoon moet word. Daar sal daadwerklik pogings aangewend moet word om o.a. deur middel van ouerbegeleiding die betekenis en implikasies van die waarde  van respek en selfrespek vir tieners oor te dra. Dit gaan egter nie hier oor die een of die ander nie die een kan nie die ander kan vervang of uitsluit nie. Die vrylike gebruik van kondome sonder die nodige opvoeding en oordrag van waardes sou totaal onverantwoordelik wees, daarom is daar groot klem op die gemeenskap om medeverantwoordelikheid te aan vaar vir verantwoordelike opvoeding en onderwys.

No comments:

Post a Comment